In die winkelsentrum
Dis 'n kom en 'n gaan
Dis 'n jaagtog maar aan
Of 'n talm en draal
In 'n bonte gemaal.
Dis 'n doelgerig haas
Soos dit wemel en raas
Of 'n huiwering stil
Onbeslis wat dit wil.
Dis 'n wip en 'n swaai
Dis 'n statige draai
Of 'n sleur en 'n wag
Of 'n sinneloos lag.
Dis 'n kyk in die glas
'n Gevoel en betas
Dit beskou en bekyk
Of dit pas en toereik.
Dis 'n lyfie wat kwyn
Of dis bulte wat dyn
Dis 'n fietse figuur
Dis of goedkoop of duur.
Dis 'n weeg en 'n wik
'n Gekorrel en mik
Vir 'n ieder en elk
In "society’s" kelk.
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 27 Mei 1988